Skip to main content
Suid-Afrikaanse Landbou Kan Nie Bekostig Om AGOA Te Verloor Nie

Suid-Afrikaanse Landbou Kan Nie Bekostig Om AGOA Te Verloor Nie

Sedert die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika (SA), Reuben Brigety, beweer het dat daar onweerlegbare bewyse is dat SA in Desember 2022 wapens aan Rusland verskaf het, is daar toenemende kommer oor wat dié bewerings vanuit ’n ekonomiese en vernaamlik internasionale handelsoogpunt vir die land kan inhou.

Een van die groot bekommernisse is SA se moontlike uitsluiting van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa). Agoa is Amerikaanse wetgewing wat belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir Afrika-state gee.

Dié wetgewing is uiters waardevol vir ons landbousektor. Die tariefvrye toegang wat Agoa bied, stel Suid-Afrikaanse produsente, met hul laer produksiekoste, in staat om mededingend te wees en maak dit lewensvatbaar om die enkele grootste verbruikersmark ter wêreld te betree. Agoa moet in 2025 hersien word wanneer dit verstryk, maar die Verenigde State (VS) kan ons voordele gouer eensydig hersien. Sou SA van Agoa uitgesluit word, sal ons hierdie kostevoordeel verloor, aangesien tariewe van die ‘mees begunstigde nasie’-beginsel sal geld.

Maar dit is nie net die Agoa-handelsvoordele wat bedreig word nie. Nedbank se Ekonomiese Eenheid wys daarop dat die potensiële skade aan die ekonomie en handel wesenlik sal wees as betrekkinge verswak en die VS se bondgenote ook moontlik betrek word. As daar ’n algehele ineenstorting van die SA–VS-verhouding is, sal die Europese Unie (EU) waarskynlik die VS volg. SA het sterk handelsbande met beide die VS en die EU – die EU is as blok ons grootste handelsvennoot, terwyl die VS ons derde grootste handelsvennoot van individuele lande na Sjina en Duitsland is. Erger nog, as hierdie belangrike Westerse handelsvennote sanksies instel, loop SA die risiko om tot 40% van sy handel te verloor, wat die ekonomie in 'n diep en erge resessie sal dompel, die rand skerp sal verswak en staatsfinansies ineen sal laat stort.

 

Bestaande handelsooreenkomste is noodsaaklik vir SA se toegang tot groot markte

Volgens die Nedbank Ekonomiese Eenheid baat sowat 25% (R59,2 miljard) van SA se uitvoere na die VS by Agoa en die algemene stelsel van voorkeure, terwyl ’n wesenlike 98,7% (R429,2 miljard) van uitvoere na die EU voordeel trek uit die Europese Vennootskapsooreenkoms. Die mynbou-, vervaardigings- en landbousektore is die belangrikste begunstigdes van hierdie handelsooreenkomste. Totale handel met Rusland dra slegs 0,2% by tot die BBP, en dit is dus duidelik dat daar baie meer op die spel is deur verhoudings met die VSA en die EU skipbreuk te laat ly.

Hierdie syfers stem ooreen met dié van die Landboubesigheidskamer (Agbiz). SA voer ongeveer die helfte van sy landbouproduksie in waarde uit – ’n totaal van $12,8 miljard in die rekordjaar 2022. Rusland is 'n klein mark vir hierdie produkte, wat net 2% van SA se landbou-uitvoere vir die afgelope vyf jaar verteenwoordig.

Stappe word geneem om nuwe markte te ontsluit. Agbiz, voorsitter van die BRICS-agribesigheidswerkgroep en die private sektor in al vyf BRICS-lande, ondersteun byvoorbeeld die plan om van BRICS meer as ’n politieke groepering te maak en handelsvoordele te pluk. Sake op die agenda sluit bilaterale handelsooreenkomste in, maar vanuit 'n suiwer ekonomiese oogpunt gesien, is die voor-die-handliggende-benadering in 'n wêreld van toenemende onsekerheid om verhoudings te koester met lande waarmee SA reeds sterk ekonomiese bande het.

 

Veral sitrus en wyn is kwesbaar

Aangesien sitrus een van die groot voordeeltrekkers uit Agoa is, is die Sitruskwekersvereniging (CGA) een van talle belanghebbendes wat die regering versoek om die saak dringend op te los. Nege persent van SA se sitrus word na die VS uitgevoer en hoewel dit na 'n klein persentasie lyk, het hierdie mark geweldige groeipotensiaal. Dit word getoon deur die feit dat uitvoere na die VS byna verdubbel het, vanaf 60 000 ton in 2020 tot 112 594 ton verlede jaar. Hierdie uitvoere het verlede jaar R1,6 miljard se uitvoerinkomste opgelewer – wat duidelik in die weegskaal sou wees in die afwesigheid van Agoa. 'n Groot bekommernis is die duisende werksgeleenthede in landelike gebiede wat ook geraak sal word: 'n Geraamde 35 000 plaaslike werksgeleenthede regoor die voorsieningsketting asook as 'n bykomende 20 000 werksgeleenthede in die VS word deur VSA-SA-sitrusuitvoere in stand gehou.

Die CGA raam dat SA se sitrusprodusente moontlik produksie tot 'n totaal van 260 miljoen kartonne teen 2030 kan laat groei. Dit sal die sektor se bydrae tot die ekonomie op 240 000 werksgeleenthede en R50 miljard se inkomste te staan bring. Hoewel daar moontlikhede bestaan vir die uitbreiding van markte in Thailand, Viëtnam, Japan, Indië en die Filippyne, sê die organisasie dat die verlies van die VS as 'n sleutelmark, wat duidelik dié potensiaal vir uitbreiding bied, 'n groot slag vir hul bedryf sal wees.

SA Wine NPC is eweneens bekommerd oor die moontlike impak van die beëindiging van Agoa en het in 'n verklaring opgemerk dat die dramatiese daling van die rand teenoor die dollar ná die bewerings aandui in watter ernstige lig internasionale markte hierdie bewerings beskou. Suid-Afrika voer jaarliks R10,5 miljard se wyn uit na 125 lande en die VS is een van SA se top-vyf uitvoermarkte, met wynuitvoere van altesaam R800 miljoen in 2022. Dit is gelykstaande aan ’n belastingvoordeel van tot R57 miljoen, mits die vrystelling van invoerbelasting-stelsel vir alle SA wyninvoere gebruik is. SA Wine NPC glo egter dat dit nie net hierdie voordeel is wat negatief geraak kan word nie. Hierdie bewerings hou ook 'n risiko in vir die wynbedryf ten opsigte van toerisme, voortgesette wynuitvoere en ons reputasie as 'n geloofwaardige rolspeler in die internasionale handelsomgewing. Boonop neem die wynsektor 269 069 mense, waarvan 80 173 op plase en in kelders werk, regoor die waardeketting in diens. Baie van hulle sal kwesbaar wees sou Agoa beëindig word.

 

Wes-Kaap pas skadebeheer toe

Synde die meeste van beide sitrus- en wynuitvoere na die VS uit die Wes-Kaap afkomstig is, is dié  provinsie die een wat die meeste by Agoa baat, maar ook die een wat diemeeste het om te verloor. Daarom het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, saam met ’n afvaardiging van ander provinsiale regeringsamptenare, onlangs die VS besoek om met invloedryke Amerikaanse amptenare te onderhandel.

Internasionale handel en die globale ekonomie vorm 'n hoogs geïntegreerde, komplekse, vryemarkstelsel waarin Suid-Afrika funksioneer en waaruit hy tans voordeel trek. Ons enigste hoop om ons beleërde ekonomie te herbou lê daarin om die land se toegang tot regstreekse buitelandse belegging te beskerm en ons deurlopende marktoegang tot die wêreld se vinnigste groeiende ekonomieë te verseker. Om ons grootste en belangrikste handelsvennote moontlik te vervreem strek nie tot ons voordeel nie.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
Nedbank agriculture