Skip to main content
Energie Het Die Nuwe Gonswoord Geword

Energie Het Die Nuwe Gonswoord Geword

Met falende Eskomstelsels het dit vandag die in-ding geword om oor energie te praat. Daar is weinig instellings en individue wat nie op die een of ander wyse reeds ’n duur prys betaal vir die nie-nakoming van Eskom se alleenreg-mandaat om krag aan Suid-Afrika te lewer nie. Die ironie is dat Eskom agter ’n regulatoriese skans skuil wat dit kort duskant onmoontlik maak vir die privaatsektor om in te klim en die probleem op te los.

Met elke falende instelling, wat vanweë die regering se beleidsomgewing daagliks geleenthede vernietig en oplossings van mense ontneem, raak dit vir almal in die land net al hoe meer ingewikkeld om onbevange ’n rooskleurige toekoms te sien.

 

Daar moet egter gewaak word dat ons toelaat dat ons gedryf word tot by daardie punt waar ons dit maar gedwee aanvaar dat hierdie regering, met sy vernietigende beleid, vir ons ‘n toekoms gaan bepaal. Dit is nie net die onvermoë van die regering om effektiewe energie te kan verskaf wat ons ekonomies sink nie. As daar vandag na die werklikheid gekyk word – daar  waar ANC-beleid op enige wyse ’n invloed uitoefen – is daar geen terrein waar ons kan sê dinge verloop klopdisselboom nie. Die regering is inderdaad besig om ‘n mislukking te bou.

Dit kan tog mos nie toegelaat word dat ons wat positief wil bou aan die toekoms moet skik vir hierdie gemors nie! As gelowiges bou ons vir ’n toekoms ingevolge ons kultuuropdrag soos verkry vanuit die Woord. Dalk is die belangriker energie wat ons moet verkry juis om vanuit ’n vaste begronding seker te maak ons bou ’n toekoms wat nie onderhewig sal en kan wees aan mensgemaakte diskoerse nie.

Intussen word ons steeds daagliks gebombardeer met die resultate van ’n beleidsomgewing wat wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak het. Die werkliikheid is dat die baie dinge wat skeef loop maklik daartoe kan bydrae dat mense negatief word. Die gevaar hieraan verbonde is dat ’n negatiewe mens nie konstruktief oor positiewe uitkomste kan dink en doen nie. Derhalwe moet ons onsself dwing om konstruktiewe oplossings en uitkomste te soek.

Ons werklikhede vereis dat ons met beplanning en daad by die staat se falende meganismes verby moet beweeg. Ons moet ook hard werk om vir ons nageslag ’n toekoms te skep – op dieselfde wyse soos wat ons voorouers dit vir ons gedoen het. Dit beteken dat elkeen hul talente optimaal moet benut en moet streef na uitnemendheid. Deur dit dan in  die praktyk toe te pas kan ’n sinvolle toekoms geskep word. Mag elkeen van ons deurentyd fokus behou en die nodige verskil maak.

Alternatiewe krag is vandag noodsaaklik om in besigheid te kan bly. Om vir die Staat of vir Eskom te wag gaan veroorsaak dat ‘n mens saam met hulle gaan sink. Ons pleidooi is net dat almal moet seker maak dat hulle van betroubare verskaffers gebruik maak. Dit is net te veel dat ons verneem van persone wat hulle vingers brand met swak gehalte sonkraginstallasies. So het TLU SA byvoorbeeld, na deeglike navorsing, hande gevat met MarketVest wat sopas ‘n volledige sonkragstelsel met 1080 sonpanele wat 1 Megawatt sonkrag lewer by die Botswana-universiteit geïnstalleer. MarketVest is’n instelling met die korrekte akkreditasies en die nodige kundigheid wat seker maak dat hulle installasies betroubaar is.

Elkeen wat vir alternatiewe energie beplan – wat vandag ’n noodsaaklike geword het – moet hul huiswerk deeglik doen ten einde ‘n goeie uitkoms te verseker. ‘n Riglyn wat gevolg kan word om ‘n kontrakteur te kies wat ‘n wettige en veilige installasie kan doen en om self aan die regulatoriese en wetlike vereistes te voldoen word uiteen gesit in die artikel van Miltons Matsemela – The Conveyance; Installing Home Solar – How to Comply with the Regulatory Requirements. Teken ook die Kragdagdatum, 9 – 12 Augustus 2023, in jou dagboek aan en kom besoek die sonkraguitstallers op een van daardie dae.

Source: https://kragdag-gemeenskap.co.za/energie-het-die-nuwe-gonswoord-geword/

 

For other agricultural products and services, click here.

Archived Posts

2024 (1)
2023 (1)
2022 (1)
2021 (1)
2020 (1)
2019 (1)
2018 (1)
2017 (1)
KragDag